
Petrol breek die R30-grens: maak jou tenk vandag nog vol
Petrol en diesel word môre tot R3,33 per liter duurder. Só tref die nuutste prysstyging jou sak, en dít is hoekom dit gebeur.

Wie nog nie die tenk volgemaak het nie, moet hom vandag roer. Vanaf Woensdag 7 Oktober styg 95-loodvry met R3,33 per liter, en vir die eerste keer ooit kos petrol in die binneland meer as R30 per liter. In Gauteng betaal motoriste voortaan R30,25 vir 95, terwyl 93 op R29,88 te staan kom.
Dieselgebruikers ontspring ook nie die dans nie. Die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne het Maandag bevestig dat 50 dpm-diesel met R3,24 per liter en 500 dpm-diesel met R2,84 opgaan. Paraffien, waarop talle huishoudings vir kook en hitte staatmaak, styg op groothandelvlak met R3,58.
Aan die kus lyk dit nie veel beter nie. Hier gaan 95-loodvry R29,38 per liter kos, amper R10 meer as die R19,92 wat motoriste in Maart nog betaal het. Vir die gewone gesin beteken dit dat elke rit skool, werk of winkel toe nou nog dieper in die sak tas.
Die Midde-Ooste se onrus tref ons by die pomp
Die skerp styging is hoofsaaklik aan hoër internasionale oliepryse te wyte. Die oorlog met Iran en kommer oor die Straat van Hormuz, ‘n belangrike skeepsroete vir ru-olie, hou die mark op sy tone. Suid-Afrika voer die meeste van sy brandstof in, en daarom voel ons elke skok op die wêreldmark dadelik.
Geen verligting in sig nie
In April het die regering die algemene brandstofheffing tydelik met minstens R3 per liter verlaag, maar dié keer is soortgelyke hulp glad nie ter sprake nie. Ekonome waarsku boonop dat inflasie, wat in Augustus reeds op 4,4% gestaan het, verder kan klim en selfs nog rentekoersverhogings kan uitlok.
Elke rand tel nou
Rustiger ry, minder rondry en saamry werk toe is van die eenvoudigste maniere om brandstof te spaar wanneer die pomp so genadeloos is. Ek het gisteraand al my week se ritte op ‘n stukkie papier uitgewerk, en vanaand staan ek saam met die halwe Kaap in die tou by die vulstasie.
Die Suid-Afrikaner is opsoek na joernaliste …. Indien jy belangstel stuur asb. ‘n e-pos aan info@thesouthafrican.com of WhatsApp ons op 060 011 0211.